top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Waarom bid ons?

Braam Hanekom

Ek het enorme respek vir Albert Einstein. Onteenseglik een van die grootste wetenskaplikes van alle eeue. Daar is egter al baie geskryf en gespekuleer oor of Einstein ‘n gelowige was. Hy het grootgeword in ‘n Joodse familie, wat op jong leeftyd ‘n katolieke skool bygewoon het. Einstein het oor jare talle uitsprake gemaak wat verskillende mense, gelowig en ongelowig, aangehaal het om hulle standpunt te probeer ondersteun. Een gevolgtrekking waartoe sommige gekom het, is dat Einstein in ‘n “panteïstiese” God sou geglo het wat nie inmeng in die alledaagse lewe van mense nie.

Einstein sou affiniteit vir die Nederlandse filosoof Baruch Spinoza getoon het, wat weer sou gesê het: “Hou op bid en gaan geniet die lewe.” Einstein sou egter ook by geleentheid gesê het: “Science without religion is lame, religion without science is blind.” Talle sou daarna spekuleer oor wat hy presies hiermee bedoel het. Vir my wil dit voorkom of Einstein ‘n agnostikus was. Iemand wat oor die metafisika gewoon gesê het. Ek weet nie. Nou wat het dit als met gebed te doen?


Gebed, anders as meditasie, werk met die beginsel dat daar ‘n transendente, maar ook persoonlike God is wat luister. Ek is oortuig dat die gebedslewe van verskillende mense van die mees persoonlike (en daarom ook verskillende) ruimtes is wat bestaan. Ek sou dus baie huiwerig wees om voorskriftelik te wees.


Die Skrif gee wel enkele riglyne. Hiervan is die Onse Vader vir my die kosbaarste. In tye wanneer ek om ‘n verskeidenheid van redes sou sukkel om te bid, bid ek gewoon die Onse Vader.


Ek bly egter bid omdat ek deur die jare ‘n besonderse positiewe ervaring van gebed het. Daar gebeur op baie vlakke dinge met, in en om my. My gebede word natuurlik nie altyd beantwoord soos wat ek dit wil hê nie. Dit kan ook nie. Stel jou voor God sou elke gebed waar daar gebid word dat mense gesond word en bly lewe, positief beantwoord. Dink vir ‘n oomblik wat die implikasies vir die skepping sou wees.


Ek bid dus nie omdat ek glo dat God my gebede altyd sal verhoor soos ek dit wil hê nie. Ek bid egter omdat ek weet dat God my hoor en antwoord. Soms met ‘n “ja”, soms met ‘n “nee”, maar altyd met berusting. Gebede wat in lyn met God se wil gebid word, word positief beantwoord. Nie altyd onmiddellik nie, maar wel. Ons bid dus nie net om te vra nie, maar ook om God se wil te onderskei. Dit neem tyd, vra nederigheid en respek, maar word een van die mees vervullende ervarings vir diegene wat so moeite met God maak.


“’n Gelowige wat probeer leef sonder gebed is soos ’n mens wat probeer lewe sonder om asem te haal.” – Martin Luther

bottom of page