top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

VGK en NGK praat saam oor die toekoms op Piketberg

Lede van die kerkrade van die NGK en VGK op Piketberg het verlede Dinsdag vergader om saam te gesels oor die toekoms van die pragtige dorp. Dit kom na die gesprek onlangs op Koringberg wat ook deur die Sentrum vir Publieke Getuienis gefasiliteer is.



Hoe gaan dit, Piketberg? Sedert 2019 is die Sentrum vir Publieke Getuienis besig om kerkgroepe op dorpe te help om oor hierdie vraag aan hul dorpe na te dink. By so ‘n dorpsgesprek word die volgende vier vrae gewoonlik gestel:


· Wat is die stand van verhoudinge en sosiale kohesie op die dorp?

· Wat is tans die grootste uitdagings?

· Hoe sien die verskillende gemeenskappe dit?

· Wat is die een of twee aksies wat nou geloods moet word?


Daar is ernstig gepraat oor die gebrek aan hoop en motivering onder van ons jeug, werkloosheid en ander sosiale uitdagings. Die volwassenes van die dorp wil graag Piketberg se jongmense help en motiveer met ‘n toekomsvisie, vooruitsig en toekomsdrome. Die gesprek het gewys op die verskil tussen gemeenskappe wat in hulle volwassenes/ouers ‘n poel kennis het oor loopbaan- en werksmoontlikhede en wat hul kinders op so ‘n pad kan begelei. Aan die ander kant, gemeenskappe wie se ouers nie soortgelyke blootstelling het nie en daarom ook nie hul kinders altyd kan help om ‘n pad na goeie lewensgeleenthede te bedink en te loop nie.


Die gedagte wat gelaat is, is dat die SPG meer as bereid is om ondersteuning te bied vir ‘n voorligtingsaksie in Piketberg, maar dat ‘n man/vrou/groep van die dorp moet opstaan om hierdie noodroep te antwoord.


Insittendes het ook gesels oor die verdeeldheid wat hulle op Piketberg ervaar. Gemeenskappe is steeds verdeeld deur rasbepaalde woongebiede en rassisme. Daar is net aan hierdie uitdaging geraak. Daar is klem gelê op die simboliese impak van die twee oudste kerke in die dorp (NGK 1833 en VGK 1903) wat, vanuit die gemeenskap se perspektief, steeds slegs in terme van ras onderskei kan word van mekaar. Daar is verwys na die leierskapsrol wat die twee kerke se leraars speel om verdeelde gemeenskappe bymekaar te bring. Die vergadering kon egter ook met moed praat oor seer wat in die gemeenskap opgesluit lê en oor jare nie na behore hanteer is nie. Daar is besluit op opvolggesprekke om dit op 'n verantwoordelike wyse te hanteer.


Om mekaar te groet op straat en op 'n persoonlike vlak met die ander kerk se lidmate kontak te bou (nooi vir ete), is van die aksies wat elke lid van die gespreksgroep onmiddellik kan neem.


Die bevestiging van ons eenheid as broers en susters in Christus het vir besonderse oomblikke die aand gesorg. Groot dank aan die leraars Martin Goosen, Walter Philander en Johan Smit wat uitnemende leiding hier geneem het.


#unity #100dorpedialoog

bottom of page