Publieke Getuienis
Verslag van Waarnemings: EFF-protes, Hoërskool Brackenfell
Dr Braam Hanekom - 21-11-2020
My dank aan die SAHRC wat aan dr Llewellyn MacMaster en myself permitte verskaf het om as monitors tydens die protesoptog op te tree.

Chronologiese waarneming
09.00. Alles is baie kalm en rustig. Polisie is in groot getalle aanwesig. Enkele omstanders, maar ook die Cape Party wat buite die doringdraad-afsperring hulle (reklame) tent opgeslaan het, is teenwoordig. Baie media reeds teenwoordig. EFF het toestemming om hul verhoog voor die skoolingang op te rig. Toestemming is gegee vir ‘n optog van 100 mense.
09.30. Ons beweeg nader aan die EFF-versamelpunt, ongeveer een kilometer van die skoolingang (Old Paarl Road/Paradys street).
09.45 (+-). ‘n Kleiner groep EFF-lede (200?) begin in die rigting van die skool draf. Polisie skiet skokgranate en waterkanonne. Die groep beweeg weer terug na versamelpunt. Nog busse daag op.
11.00. Die groep het gegroei tot ongeveer 1 000. Onderhandelinge vind nou tussen leiers en polisie plaas omdat daar ooreengekom is op 100. Die groep is relatief rustig. Dit is egter baie warm. Daar word gesing en gedans. Weinig maskers. Geen sosiale distansie. Knopkieries, swepe, gholfstokke, nagemaakte hout, masjiengewere en selfs byle is oral sigbaar. Rassistiese uitsprake word geskreeu, ook teenoor (bruin) polisie. Daar word besluit dat die polisie 500 protesgangers as kompromis sal toelaat.
12.00. Die groep begin stadig beweeg, maar word gestop omdat dit blyk dat die groep steeds baie groot is. Gerugte lui dat die polisie nou selfs die voorste 500 protesgangers van die res wil afskei. Duidelik is die leiers nie in staat om dit te doen nie. Op hierdie stadium is ek en Llewellyn langs die optog. Die polisie se pogings slaag nie en dan begin mense in alle rigtings hardloop. Ons weet eers nie waarom nie, maar besef dan dis traanrook... Skokgranate volg. Die groep spat in alle rigtings.
Polisie rig volgende linie op Kruising Frans Conradie en Paradys straat.
Hergroepering vind weer plaas.
15.00. Groep beweeg uiteindelik nader aan die skool waar ‘n toespraak by die verhoog plaasvind. ‘n Wit omstander vra aan die EFF hoekom hulle “witmense so haat” - hy word aangeval. Traangas en skokgranate word weer gebruik. Die man word “bevry.” Hy het ‘n belangrike vraag gevra, maar na my mening op ‘n heeltemal verkeerde plek en tyd. Die EFF sal egter langs die regte forums veel beter gekonfronteer moet word oor hul huidige strategie en optrede. Dit pas in geen demokrasie en is ‘n bedreiging vir vrede in Suid-Afrika.
Intussen word berigte ontvang van skade wat in die omgewing aan winkels en motors aangerig word.
Teen ongeveer 17.00 verdaag feitlik almal.
Opsommende waarnemings
1. Hierdie is meer as protes. Dit is ‘n gevaarlike straatteater. Die opsweping van massas, met ‘n bepaalde narratief en besliste rassistiese ondertone.
2. Die aanwesigheid van wapens soos byle, stokke, swepe en meer is onrusbarend.
3. Die vraag word gevra of die polisie dit anders kon hanteer. My ervaring is dat hulle te midde van groot provokasie groot beheersing aan die dag gelê het. Dit moet beklemtoon word dat die EFF feitlik alle vooraf ooreenkomste verbreek het.
4. Die beweging openbaar tans fascistiese, rassistiese en populistiese trekke.
5. Die groep was 95%+ etnies swart.
6. Daar was wel leiers van die EFF wat hul bes gedoen het om die groep te beheer. Hulle was egter nie naastenby sterk en genoeg nie. Die opsweping wat plaasgevind het, was te groot.
7. Die Brackenfell-gemeenskap het gehoor gegee aan die oproep om weg te bly. Ek dink daar was meer media as inwoners.
8. Die EFF is meesters in die gebruik van simboliek. Kan iemand vir my die talle palmtakke verklaar? Die EFF het die reg en, soos ons almal, die verantwoordelikheid om onreg uit te wys en aan die lig te bring. As jy egter self die reg verbreek, verloor jy die meeste van jou eie regte. Ek kan nie anders as om die druk wat hulle in ‘n alreeds moeilike jaar op broos leerders geplaas het, ten sterkste te veroordeel nie. Terugvoering van die trauma, ook tydens die PAC-protes, is reeds ontvang.
9. Ons het ‘n vreemde gevoel van veiligheid ervaar terwyl ons dikwels tussen polisielyne en die EFF-linies beweeg het. Terselfdertyd is daar ook baie woede en aggressie by die groep waargeneem. Daar is beslis opgekropte woede en frustrasie. As die gras droog is, kan enigiemand ‘n vuurhoutjie trek en dit sal brand. Die vraag moet gevra word: waar kom dit vandaan en hoe kan dit ontlont word?
10. Die wonde is dieper as wat ons dink.
11. Daar sal veel dieper na die waarheid gesoek moet word.
Aanbevelings
· Gefasiliteerde gesprekke met die kinders (en gemeenskap) moet gevoer word. Dit is van uiterste belang dat die waarheid oor die “partytjie” en meer aan die lig kom.
· Daar behoort ook met die kinders ‘n gesprek gevoer word oor die aanklagte van rassisme wat gemaak word.
· Daar behoort spoedig begeleide programme in diversiteitsbestuur en hantering van rassisme geloods te word.
· Sistemiese rassisme moet nou landswyd aangespreek word. Senekal en Brackenfell is net simptome. Hopeloos te min energie word tans spandeer aan die bou van sosiale kohesie en ‘n nuwe sosiale kontrak.
#Brackenfell #protest #EFF #SouthAfrica #Brackenfellprotest #racism #violence #peace #whites #blacks #socialcohesion #community