top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

SA kan 'n paar lesse uit dié konflik leer

Deur dr. Braam Hanekom. Met dank ontvang van Godsdiens Aktueel (Beeld & Die Burger)


Die konflik tussen Israel en Palestina is die afgelope weke, vir die soveelste keer, intens in die media en deur gelowiges bespreek. Dit wil voorkom asof daar tans geen ander konflik op die planeet is, wat soveel emosie losmaak, soos die een in Israel en Palestina nie.


Profetiese uitsprake word links en reg aangehaal en opvallend is die verskille oor dié konflik wat binne ‘n bepaalde geloof aangetref word. Terselfdertyd tref dit ‘n mens hoe daar, oor ‘n wye spektrum, uiters selektief met feite en die waarheid omgegaan word. Die feite wat aangehaal word is nie so verkeerd nie, maar opvallend is die feite wat weggelaat word!


Laat ek ‘n paar voorbeelde gee. Terwyl baie mense daarop wys dat die huidige konflik na aanleiding van insidente by die Al Aqsa Moskee en uitsettings in Oos-Jerusalem begin het, word min gesê oor wat gedurende en na 1918, 1947 en 1948 in Palestina gebeur het. Terwyl daar talle Ou Testamentiese profesieë oor Israel aangehaal word, word Jesus Christus se eie voorspellings oor Jerusalem en ‘n Nuwe Verbond, dikwels in die gesprek verswyg. Die Palestyne ervaar bittere lyding, maar die inhoud van byvoorbeeld die Hamas Charter word nie wyd verkondig nie.

Suid-Afrikaners behoort hieruit ‘n paar lesse oor konflik te leer .

Die eerste les is dat in konflik, ons siening van die werklikheid en waarheid, maklik kan verskraal. In konflik behoort ons wyer te kyk en veral nie eie belang die norm te maak nie. In ‘n land propvol diversiteit behoort ons ons mure laer te maak en ons tafels groter. Nie anders om nie.

Ek was bevoorreg om onlangs na die dokumentêr, Roadmap to Apartheid te gaan kyk. Dit tref ‘n vergelyking tussen Israel en Suid-Afrika.

My oorweldigende reaksie na die rolprent was dat ek oneindig dankbaar is vir dit wat in 1994 in Suid-Afrika gebeur het. Baie is steeds verkeerd en baie moet nog gebeur, maar daar is geen manier waarop ons kon bly waar ons was nie. Terwyl ons huidige vlakke van misdaad en geweld totaal onaanvaarbaar en verwerplik is, mag ons nooit vergeet dat geweld ook voor 1994 met ons was nie. Dit het net ‘n ander gesig gehad. Vir baie van ons was dit verborge.

`n Tweede les wat ons moet leer, is dat trauma dikwels verdere konflik baar. Afrikaners is verguis tydens die Anglo-Boere oorlog en kyk wat gebeur na 1948. Apartheidslagoffers gaan deur groot lyding en kyk wat doen sommige van hulle vandag. Op die Kaapse Vlakte loop duisende getraumatiseerde kinders rond en kyk hoe het die bendes gegroei. En Israel? Wie kan ooit Dachau en Auschwitz vergeet, maar kyk wat doen Jode vandag met Palestyne. Dit help as ons die trauma agter die konflik verstaan.


Konflik mag nooit vlak gekyk word nie en vrede is duur, maar gelukkig is die vredemakers.

bottom of page