top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Piketberg is saam op reis

Ons het verlede week die derde van ‘n reeks gesprekke tussen die VGK en die NGK op Piketberg gehad. Hierdie reeks fokus op die fasilitering van gesprekke met die oog op heling, versoening en eenheid.



Die kerk word dikwels daarvan beskuldig dat hulle (veral in sensitiewe gesprekke) die gesprek probeer manipuleer met ‘n spesifieke teks. Daarom het Braam Hanekom besluit om gewoon die hoofstuk wat hy die oggend in sy stiltetyd hanteer het, op die tafel te plaas: Lukas 19. Die volgende kom toe aan die orde:


  1. Saggeus en restitusie – na sy ontmoeting met Christus.

  2. Die talente en die belangrike punt dat dit nie saak maak hoeveel jy het nie. Wat saak maak, is wat jy doen met dit wat jy het.

  3. Die intog in Jerusalem – en Lofprysing.

  4. Gebed – “My huis sal ‘n huis van gebed genoem word.”

Gaan lees gerus self die hoofstuk as ‘n eenheid. Dit was ‘n heerlike vertrekpunt vir hierdie gesprek op Piketberg. Deur die loop van die aand het die volgende ook op die tafel gekom:


  1. Eenheid onder al die kerke op Piketberg. Die kerk is tans versplinter op so baie dorpe. Dit skiet ons getuienis en profetiese taak in die voet.

  2. Die belangrikheid om die groep na veel meer lidmate uit te brei. Die belangrikheid om ons nie deur moontlike weerstand te laat onderkry nie.

  3. ‘n Voorstel om ‘n groot gesamentlike ete op die dorp te reël, of dalk op ‘n plaas.

  4. En natuurlik ‘n gesamentlike nagmaal in samewerking met meer kerke.

  5. Beide kerkrade is uitgedaag om te gaan dink oor ‘n versoenende simboliese gebaar wat aan die ander gemeente gerig kan word.

  6. Ons het ernstig gepraat oor trots. Sekerlik een van die ernstigste sondes in die Evangelie. Asook die Xhosa woord umona.

  7. Ons het vir mekaar gesê dat ons dinge nie gaan forseer nie, maar ook moet weet: “water wat te lank stilstaan, begin stink."

  8. Ons almal moet bevry word van rassisme.

  9. Klem is gelê op die feit dat ons nie in die eerste plek verskillende rasse is nie, maar wel almal mense! Mense wat gerespekteer moet word.

  10. Op die vraag waarom God dan soveel verskillende rasse gemaak het, het die beskeie antwoord gekom: omdat daar soveel skoonheid opgesluit lê in diversiteit! Gaan kyk maar na die natuur. Ons moet die diversiteit in Suid-Afrika vier, respekteer en bewonder. Talle mooi stories oor wat op die dorp aan die gebeur is, is ook gedeel.

Ons het die aand afgesluit deur weer saam te bid en te sing. Toe ek in die stilte van die soel, lente-aand uit die konsistorie stap, het ek geweet dat daar môre dalk weer slegte stories in die koerante gaan wees. Tog het ons vir een oomblik in die tyd weer die anderse, vredevolle gemeenskap in Christus gevier. Die stil aand van die plattelandse dorp was vir my nog stiller en die nag nog meer vol vrede. Op pad terug kon ek selfs in die donker die wuifende koringlande sien. Die belofte van ‘n mooi oes was in die lug.

bottom of page