top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Ons mag nooit ophou om met mekaar te praat nie!

Ds. Cecile Murray-Louw van Durbanville-gemeente deel haar ervaring van die #100DorpeDialoog-opleiding en werp lig op die waarde van dié projek en die rol wat dit speel in die bevordering van groei en herstel binne Suid-Afrika.


"My bywoning van die onlangse #100Dorpe-gespreksfasiliteerdersopleiding het my weer eens bewus gemaak van hoe honger mense is om gehoor te word. Hoe nodig die geleentheid vir ontlading, ontlonting en ontleding is. Want daarsonder hou harte aan om te verhard en die mure om eie kastele kry nog 'n ry bakstene.


Dalk het ons aangeneem dat mense 30 jaar nadat die apartheidskeidingsmuur "geval" het, al lankal meer toegang tot mekaar sou gehad het. Daarmee saam meer vrymoedigheid om hul behoeftes en uitdagings te deel. Die burokratiese stelsel wat ons uitmekaar gehou het, was immers mos daadwerklik afgedank.


Dit blyk egter dat die teenoorgestelde plaasgevind het.


Meer as ooit tevore is dit "elke man vir homself." Die gewone burger is desperaat vasgevang in 'n waansinnige oerstryd vir oorlewing… Vir daaglikse brood op die tafel, onderrig vir hul kinders en toegang tot basiese dienste. Om dit net tot by die werk en terug te kan maak.


Die bronne wat bedoel was vir die land se bevolking sypel oenskynlik ongesiens in versteekte sakke en beursies in, sonder dat daardie vet, magtige skimme daadwerklik verantwoordbaar gehou word en die piramiede blyk eenvoudig op sy kop gedraai te wees: Van dié wat vir dekades die vloei van fondse, dienste en voorspoed vasgehou en gemanipuleer het, is daardie toestemming ontneem en in die hande van nuwe leierskap geplaas.


Maar steeds voel die massas geen verligting nie. Min bevryding uit armoede en beswaarlike verbetering in lewenskwaliteit vir die gros van die bevolking.


Mense is kwaad. Woedend. Die wond sweer en dreig om oop te bars, bars alreeds. Reg word in eie hande geneem. Jeug draai na die mees toegangklike narkosemiddels, die verligting van dwelms, drank en meer.


Agter elke storie op elke dorp lê diep, generasionele trauma. Onaangespreek, meestal slegs toegesmeer.


Daar word gesmeek en gehunker na diep, dapper dialoog. Betekenisvolle gesprekke. Om gehoor, ten einde gesien, ten einde verstaan te word. Met een gemeenskaplike doel: Om te mag behoort. Veilig, geborge in hierdie pragtige land vol stukkende beloftes wat ons elkeen se nalatenskap is. Wat al is wat ons het en vir ons kinders kan oorgee.


Hier waar ons ons te midde van die dichotomie van rykdom en armoede, voorspoed en agteruitgang, hoop en hopeloosheid en mediokrasie en uitnemendheid bevind.


En as een gesprek in een stowwerige saaltjie in een godverlate ou dorpie gaan beteken dat een oom of tannie met een veseltjie hoop, bemoediging of genesing daar wegstap, terug na hulle hokkie in die buurt vol slaggate waar die sinkdakkie lek en vier kinders, 'n ouma en die ouers een dubbelbed moet deel, dan MAG ons nie ophou nie.


Dit dan, is ons mandaat, ons voorreg en ons verantwoordelikheid as kerk en liggaam van die Here Jesus Christus: om aan te hou geleenthede skep vir gesprek. En dit is wat die #100Dorpe-inisiatief onbeskaamd doen.


Om nie-bedreigende ruimtes daar te stel waar Suid Afrikaners mekaar met sagte oë kan aankyk, en die ore van hul harte vir mekaar kan oopmaak.


In een stowwerige saaltjie op 'n slag.


Want daarsonder sal harte aanhou verhard en die mure om eie kastele hoër bly word. En dit, my liefste landsgenote, is 'n onheilspellende, kroniese toestand wat ons onder geen omstandighede aan ons kleinkinders mag oorda nie.




bottom of page