top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Nederigheid

deur Leopold Scholtz


Dikwels, as ek my Bybel oopslaan, kom ek agter dat dié reeks geskrifte die wêreld op sy kop omkeer. Ons mense is van nature dikwels geneig om die wêreld op ’n bepaalde manier te benader – om krag te toon, om ander te imponeer, noem maar op.

En dan kom die Bybel wat, as jy hom goed lees, alles omkeer en juis die teenoorgestelde predik. Die apostel Paulus se uitsprake in sy tweede brief aan die Korintiërs is ’n tipiese voorbeeld.

In 2 Kor. 12:9 skryf hy wat God aan hom gesê het: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Paulus gaan dan voort: “Daarom sal ek my liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.”


En in vers 10: “Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.”


Ons – en dit geld maar vir alle lewensterreine – is so dikwels geneig om deur ons dade en woorde te sê “hier is ek; ek laat nie met my speel nie; ek is sterk en besonder”.


Dis iets wat nie net vir die gewone alledaagse lewe geld nie; jy sien dit veral op die terrein van die politiek. Ons hele politieke bestel berus op die woord mededinging.


In demokratiese lande word daar op die oog af om stemme meegeding, maar uiteindelik gaan dit om die verowering van politieke mag. In diktature woed dié mededinging nie tussen partye nie, maar tussen meedoënlose en ambisieuse leiers wat hul elmboë gebruik om bo uit te kom.

En as ’n potensiële teenstander dan kwaadskiks uit die pad geruim moet word, dan ís dit maar so en klaar.


Dit pas ook in die natuur, waar dit dikwels ’n kwessie is van eet of wórd geëet. Omdat die mens deel is van die natuur, verklaar dit ook die dikwels gewetenlose aard van menslike wedywer en mededinging.


Maar die mens is nie net soos ’n leeu of krokodil die gevangene van sy instink nie. Hy het ook ’n bepaalde intelligensie ontvang, ’n vermoë om logies te redeneer, om verder te dink as wat jou neus lank is.


Ons is in beginsel in staat om die langtermyngevolge van ’n daad te identifiseer. Ons kan insien dat iets wat op kort termyn moontlik in jou belang is, jou op lang termyn dalk selfs kan skaad.

Dit is waar Paulus se woorde van belang is. Die wending wat hy aanbring, is skielik en totaal onverwags: In sy swakheid is Christus sy beskutting. Wat beteken dat as hy swak is, is hy juis sterk.


Om dit op die alledaagse lewe toe te pas: As jy vooruit wil kom in die lewe, kan jy dit op twee maniere doen. Jy kan jou mededingers domineer en oorheers, deur slenters uitskakel, ensovoorts. Of jy kan nederig, beskeie en vriendelik wees, mense goed en regverdig behandel en indruk maak met jou eerlikheid, integriteit en hardwerkendheid.


As jy ’n leier wil wees (en moet dit nie teen elke prys wil wees nie), neem mense saam met jou. Moenie hulle bang maak nie.


Dit geld ook vir die politiek. Dis waarom Nelson Mandela uiteindelik bewondering afgedwing het, al het nie almal altyd oor alles met hom saamgestem nie. Dis waarom Jacob Zuma uiteindelik vernederend in die tronk beland het.


Nou moet ’n mens die begrip nederigheid (Paulus self praat van astheneia of swakheid) goed begryp. Dit beteken nie dat jy by wyse van spreke in ’n hoekie wegkruip en hoop mense sien jou nie raak nie. Dit beteken nie dat jy met jou kop onderstebo rondloop en ekskuus vra dat jy leef nie.


Dit beteken wel dat jy nie grootmond is nie, dat jy jouself nie die hele tyd op jou bors slaan nie, dat jy steeds aan almal duidelik wil maak hoe besonder jy is nie. Nederigheid beteken dat jy jouself goed ken en dat jy respek het vir ander.


Teen dié agtergrond verkry Paulus se woorde nuwe betekenis. Paulus se benadering – wat ook Christus s’n is – beteken dat jy krag uit jou nederigheid of swakheid sal put.


Dít is égte krag, in teenstelling tot die valse krag wat ’n oordrewe kragdadigheid meebring.

bottom of page