top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

‘n Oplossing vir armoede vra meer as geld

Braam Hanekom



Verlede week stop ek en Quinton Adams, ook bekend as die “Shackbuilder” op ‘n klein plattelandse dorpie om iets te koop om te eet. Ons is op pad na ‘n informele nedersetting, wat opgegradeer moet word. Toe Quinton terug by die motor kom kan ek sien hy is geskok. Quinton het al baie gesien. Jy skok hom nie sommer nie. “Hoe het ons hier gekom?”, vra hy. “Hoe bedoel jy?”, vra ek. “Daar voor die winkel, lê ‘n dronk vrou. Albei haar oë is toegeslaan en ‘n klein babatjie probeer wanhopig aan haar drink”, sê hy. Die skool het pas uitgekom en die straat is propvol jong kinders…


Ek glo daar is `n veel groter krisis as die huidige krag-ramptoestand in Suid-Afrika. Dit is die groeiende armoede, hooploosheid en letsels wat trauma op ons kinders laat. Ons moet eenvoudig beter doen. Tradisionele barmhartigheid is nie genoeg nie.


Laat ek erkenning gee aan dit wat geloofsgroeperinge in Suid-Afrika doen. Miljoene rande vloei deur geloofsgemeenskappe na die armoede-uitdagings van ons land. Tog wonder ek soms of ons nie besig is om pleisters op baie diep wonde te plak nie.


Greg Mills het in 2021 ‘n uitstekende boek die lig laat sien met die titel: Expensive Poverty. Why aid fails and how it can work. Daarin wys hy onder andere op die $1200 miljard wat die afgelope dertig jaar in Afrika gespandeer is aan noodleniging. Waarnemers stem saam, die uitkomste was uiters beperk. Die plek ontbreek om Mills se redes vir die mislukkings te bespreek.


Binne die konteks van hierdie rubriek, glo ek egter dat geloofsgemeenskappe hulself ‘n paar belangrike vrae sal moet afvra en `n paar beginsels ernstiger sal moet neem.


Die eerste is dat ons moet verstaan dat ons grootste probleem in die land dalk nie geld is nie, maar dat ons almal, kerke, politici en medeburgers te min van onsself vir mekaar gee. Dit is vir sommige veel makliker om ‘n paar duisend rand te skenk as om ‘n dag of twee in ‘n township te gaan spandeer.


Sopkombuise sal altyd nodig wees, maar ons het nou veel meer groentetuine nodig.

“Asset based community development” (ABCD) sal nog belangriker geag moet word. Ons mag nie meer net ons ou klere, skoene en geld op gemeenskappe gaan aflaai nie. Ons sal moet moeite doen om uit te vind waar die krag en bates in die gemeenskap lê en dit bemagtig en ontwikkel.


Ons sal meer van ons tyd en energie tussen armoede moet spandeer. So sal ons ‘n veel beter kans hê om ‘n verskil te maak, maar die kans is ook goed dat onsself dan ten goede sal verander. Christus het nie uit die hemel alles met ‘n vingerklap kom verander nie, maar tussen ons kom woon en ons kom wys hoe verandering kan kom.


Gepubliseer in die Godsdiens Aktueel

0 comments

Recent Posts

See All

iThemba

bottom of page