Publieke Getuienis
Klimaatsverandering en ons kinders se toekoms
Van al die uitdagings wat ons sou nalaat om behoorlik aan aandag te gee, is ons omgewing waarskynlik die een wat die grootste op ons kinders en kleinkinders kan impakteer. Dit is dié een waarvoor hulle ons die meeste sou verwyt sou ons nie behoorlik hieraan aandag gee nie. Dit gaan nie net ons welsyn raak nie, maar veroorsaak reeds die uitwissing van talle spesies op die planeet. Die uiteindelike uitwissing van die mens is nie `n onmoontlikheid nie.

Tydens ons streeksinode van Mei 2019 is daar twee volledige sessies aan die saak afgestaan. Regoor die wêreld gaan stemme op wat waarsku dat ons in die moeilikheid is en ons sien ook nou dat dit veral die kinders en jongmense is wat `n aktivistiese rol begin speel.
Hierdie is nie die plek om die aard en die omvang van die uitdaging te dokumenteer nie. Dit is al meermale gedoen en inligting hieroor is oral beskikbaar. Heel konkreet sien ons in ons onmiddellike omgewing die verhoogde voorkoms van brande, droogtes en waterkrisisse. Dit hou direk verband met ons uitdaging. Hierdie is egter nie die enigste sigbare gevolge van `n roekelose omgang met die omgewing nie. Ernstige besoedeling, die uitputting van (skaars) bronne, die mutasie van virusse, die uitsterf van diere- en plantspesies en uiteindelike voedselstekorte is ook op die lys. Langdurige verhitting van die planeet kan dit op die ou end onbewoonbaar maak. Sekere dele is feitlik reeds daar. Graag wil ons egter na `n paar spesifieke uitdagings rondom die kwessie kyk. Ons lys net die volgende:
Hoe keer ons dat die stroom van inligting mense nie ontmagtig om iets te doen nie? Mense sou kon redeneer dat die probleem reeds so groot is dat my klein bydrae nie meer ‘n verskil kan maak nie. Ander redeneer weer dat hulle nie die probleem geskep het nie en daarom ook nie hoef op te los nie. Mense se lewens is verder binne groter patrone en sisteme van verbruik vasgevang sodat dit duur en moeilik vir baie mense, veral armes, is om daaruit los te breek.
Hoe keer ons dat ons nie net by praat, verslae, konferensies en sinodesittings bly nie? Hoe gaan ons oor tot konkrete aksies wat op die langtermyn `n verskil kan maak?
Hoe kan die kerk haar stem rondom die saak herwin en saam met ander die nodige sinergie skep sodat haar profetiese stem na behore gehoor word?
Ons verstaan dat `n nuwe omgang met die omgewing waarskynlik vir `n nuwe ekonomiese en samelewingsorde sal vra. Ons stuur in elk geval op `n nuwe orde af. Die vraag is net of dit `n positiewe of `n negatiewe orde gaan wees.
Wat sou die groter sistemiese oplossing wees?
Die oplossing vir ons ekologiese krisis lê op `n paar vlakke.
Daar sal die politieke wil op nasionale en internaionale vlak moet wees om brawe besluite te neem. Iemand soos oudpresident Donald Trump stel glad nie hierin belang nie (hy glo klimaatsverandering is “fakenews”). Iemand soos president Macron van Frankryk het sy rieme in sy eie land styfgeloop toe hy nuwe beleide wou deurvoer. In SA sit ons in `n knyptang tussen wat die regte ding vir die langtermyn is en die regte dinge vir arm werklose mense op die oomblik is. Dit is een van redes waarom steenkoolkragstasies nog so hoog op die agenda is. Op die ou end sal beleide moet verander. Ons tyd is besig om vinnig uit te loop. Ons manier van dink oor die ekonomie sal moet verander. In die verband verwys ons graag na die belangrike werk van Martin Stutchy e.a in die belangrike werk: A good disruption (2016).
Die kern van die teorie kom daarop neer dat ons vir baie lank met `n ekonomiese model gewerk het wat basies grondstowwe onttrek en dan verwerk het. Dit het hoogty tydens die industriële revolusie bereik en is verder verfyn in die tegnologiese revolusie. Hoe meer grondstowwe verwerk is, hoe vinniger kon die ekonomie groei en hoe meer mense kon daarby baat vind. Hierdie model is egter net nie meer volhoubaar nie. Dit kon miskien nog gewerk het toe ons twee of drie miljard mense op die planeet was, maar kan beslis nie vir sewe miljard mense werk nie. Ons is dus op soek na nuwe ekonomiese modelle en strukture wat volbare ekonomiese groei en welvaart vir meer mense kan voorsien sonder om die planeet in die proses te verwoes. Nuwe energie, nuwe modelle vir herwinning en hergebruik, maar veral ook nuwe sisteme wat ons huidige patrone van vervoer, behuising en voedselvoorsiening optimaliseer, sal bedink moet word.
Weereens is die boodskap duidelik. As ons sinvol wil oorleef, sal ons moet aanvaar dat ons op pad is na n nuwe samelewingsorde. Dit hoef egter nie `n bedreiging te wees nie. Dit kan vir meer mense `n sinvolle en beter lewe inhou.
Ons eie lewensstyl sal moet verander. Daar is klein aksies wat ons kan doen om wel `n verskil te maak.
Wat kan ek en jy en die plaaslike gemeente prakties doen om ons deel by te dra?
Wanneer ons oor die ekologie begin dink, is dit baie belangrik om te verstaan wat ons bydrae kan wees en veral hoe ons oor die situasie behoort te dink.
Nie een van ons kan die wêreld red nie, maar wat ons wel kan doen, is om in die regte verhouding met God, ons naaste en die skepping te staan. Dit gaan met ander woorde nie in die eerste plek oor ons “reddingspogings” nie, maar oor `n lewensingesteldheid en `n styl van lewe wat ons voor God lewe.
Die oomblik wanneer ons dit besef, raak dit makliker om konkreet oor aksies te dink. Ons lys sommer net die volgende:
Hersirkulering en hergebruik van organiese en anorganiese produkte, plastiek, glas en papier is nie meer `n opsie nie. Dit behoort deel van ons alledaagse lewe te word. Met die waterkrisis in die Kaap het ons met ondermeer watertenke, die hergebruik van gryswater en `n nuwe spaarsamigheid nuwe gewoontes aangeleer. Ons kort nog sulke nuwe gewoontes.
Die gooi van organiese materiaal op `n komposhoop skep wonderlike geleenthede om jou eie groente te plant en so opnuut bewus te word van die feit dat ons kos nie in die eerste plek uit supermarkte kom nie. Om jou eie groente te kweek skep `n nuwe en andersoortige spiritualiteit.
Ons kan bome plant. Dit is so maklik om avokadopeerbome te kweek van die pitte wat ons weggooi.
Ons sal moet kyk na die wyses waarop ons reis. Ry fiets en ry saam. Vlieg minder.
Ons sal na ons huise moet kyk. Huise kan met min moeite meer eko-vriendelik gemaak word.
Ons kan `n positiewe voorbeeld stel oor rommelstrooiing en, soos in Rwanda, skoonmaakaksies ondersteun of self loods. `n Skoon omgewing verander die psige van mense ten goede.
Ons kan spekbome kweek en plant.
Ons kan ophou om plastieksakke en -strooitjies te gebruik.
Moenie produkte koop wat duur en oorbodige verpakkingsmateriaal gebruik nie.
Ons kan ook pogings aanwend om ons kerkgeboue “groen” te maak.
Wie nie sensitief met die omgewing kan omgaan nie, sal na alle waarskynlikheid ook nie sensitief met ander en met God omgaan nie. Ons diskonneksie met ons omgewing kan ook lei na `n diskonneksie met mekaar én God. Ons moet dus nie hierdie uitdaging net as ‘n krisis sien nie, maar ook as `n geleentheid wat ons sou kon help om momente in ons verhoudingslewe te herstel. Terselfdertyd moet ons weet dat ons of `n “groen” toekoms binnegaan of geen toekoms gaan hê nie.
*PROEFWEERGAWE. Hierdie is deel van 'n reeks Bybelstudies wat die Sentrum vir Publieke Getuienis in die proses is om uit te bring. Hierdie reeks, wat kontekstuele vraagstukke en kwessie bespreek. word beplan vir vroeg 2022.