top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Is daar dan net twee strominge in die NG Kerk?

Braam Hanekom


In 14 Augustus 2021 se Rapport verskyn daar twee briewe wat die narratief verder aanwakker dat daar eintlik net twee strominge in die NG Kerk is. Dit kan die indruk skep dat die NG Kerk eintlik net uit hierdie twee kampe bestaan en tans in 'n stryd gewikkel is oor reg en verkeerd, die siel van die kerk en die hart van ons geloof. Dat die gesprek aan die gang is, kan niemand ignoreer of betwyfel nie. Vir my is die NG Kerk egter veel, veel groter.



Ek is bewus van duisende gelowiges wie se geloof ten diepste gedefinieer word in 'n eenvoudige, noem dit 'n kinderlike, liefde vir God, Jesus Christus en die Heilige Gees. Dit is egter ook 'n geloof wat hulle laat wakker lê, nie oor die gevegte in die kerk nie, maar veral oor die ontsaglike nood buite die kerk. Dit is 'n stroom lidmate wat God se aangesig en wysheid, nie in die eerste plek oor sinodale besluite soek nie, maar oor wat om te doen in 'n tyd soos hierdie (Hand. 2). Hulle verstaan dat ons uitdagings veel groter is as ons eie raad, wysheid en antwoorde en soek daarom op 'n stil manier na dieper antwoorde. Soms so konkreetoor sake soos behuising, werkloosheid, armoede, onversoendheid, geweld ensovoorts.


Hulle bid saam daaroor en dink daaroor. Hulle verstaan dat hulle nie die land kan verander nie, maar wel êrens in hul plaaslike gemeente en gemeenskap 'n verskil kan maak. En hulle doen dit! Hulle reik nie verklarings hieroor uit nie en skryf ook nie lang briewe in koerante hieroor nie. Hulle het dikwels nie tyd of lus daarvoor nie, want hulle het die nood in hul medeskepsels en landgenote se oë gesien en is diep geraak.


Miskien moet ons oor hierdie strome in die NG Kerk ook nadink... Die NG Kerk se publieke aansien (noem dit maar handelsmerk), is diep in die moeilikheid. Daar is redes hiervoor, maar dit kan ook verander word.


Intussen is dit nie waaroor dit vir hierdie ander gelowiges in die NG Kerk gaan nie. Wel oor 'n Koninkryksvisie en roeping wat nou én elke dag geleef moet word.

bottom of page