Publieke Getuienis
#GROEI in George
Steve van der Walt van George Moedergemeente laat weet dat die Hoop en Versoening Trust se #GROEI-projek hom inspireer het om 'n hidroponiese groentetuin te begin.

"Ek wou nog altyd met groenteverbouing in klein spasies eksperimenteer. Aangesien ek in ’n kompleks bly, is spasie juis beperk. Ek het dadelik van die saad wat ek ontvang het in saaiboksies geplant en dag vir dag met afwagting gekyk wanneer hulle opkom. Terwyl ek gewag het, het my vrou my herinner aan ’n projek waarmee hulle skool besig is, naamlik akwaponiese groenteverbouing. Sy het my aangemoedig om iets soortgelyks op kleinskaal te probeer. Danksy Google is ek spoedig in die rigting van hidroponiese tuine gelei.
Ek het ’n klompie pype aangeskaf, ’n kampkrat en ’n waterpompie. Al my toerusting het ongeveer R1900 gekos. My plan is om nog pype aan te lê, maar ek wil eers eksperimenteer en kyk watter gewasse op watter tye die beste in my pype groei.
Maar dan het ek ook ’n langtermyndroom. By ons kerk (Moedergemeente George) het ons genoeg spasie om groente te verbou wat ons vir ons hulpverleningsaksies kan gebruik. My Bybelskoollede het reeds aangedui dat hulle graag by so ’n projek betrokke sal wil raak. Nou is alles, my eie hidroponiese stelsel inkluis, nog in kinderskoene. Dankie Hoop en Versoening Trust vir jul saad! Die saad is nou in George ook geplant. Mag dit groei en tot seën wees vir baie!"