top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Gee ons demokrasie nog vir ons die regte leiers?

Braam Hanekom skryf in 'n onlangse Godsdiens Aktueel oor die leierskap van Suid-Afrika.


"Dit wil al hoe meer voorkom of daar ‘n leierskapkrisis in die westerse wêreld is. Die gespartel binne die Britse politiek het dit opnuut uitgewys. Hoe is dit ook moontlik dat ‘n land soos Amerika, met sy meer as 300 miljoen inwoners, so sukkel om ‘n president te kry wat regtig die verbeelding aangryp en mense se emosies tot bedaring bring?


‘n Paar redes word dikwels aangevoer. Die samelewing het te gemaklik geword en kwaliteit leierskap word nie in die kweekhuis van gemaksug gekweek nie. Die samelewing in geheel het sy morele kompas verloor en so oor tyd die morele DNS van miljoene mense verander. Ook van leiers. Die politieke strukture wat eens op ‘n tyd gewerk het, baar tans leiers wat nie noodwendig die breë samelewing na behore dien nie. Voeg hierby hoe sosiale media ‘n kragtige instrument geword het om die massas mee te manipuleer en jy sit met ‘n uitdaging.


Jane Chiroma skryf in African Public Theology (Agang S.B., red., 2020) dat demokrasie inderdaad nie net ‘n westerse konsep is nie. Die kgotla sisteem in Botswana, waar alle lede van die gemeenskap saampraat en dan in konsensus besluite neem, is ‘n goeie voorbeeld van Afrika-demokrasie. Die kernbetekenis van demokrasie is dan ook “mag aan die mense”.

Sisteme en strukture kan egter ook oud word en skeefgetrek word. Ek is bevrees dat demokrasie in Suid-Afrika onder andere beteken dat groot geld na tradisionele leiers vloei om so te verseker dat oningeligte massas aan ‘n sekere politieke party verbind word. Dit is ’n skeefgetrekte demokrasie.


Intussen skryf Paulus lank gelede dat ons vir ons regeerders moet bid. ’n Oppervlakkige lees van die teks en ’n simplistiese, reglynige toepassing sonder kontekstuele begrip, kan ons soos met baie ander Bybeltekste op plekke laat beland waar ons verspot voorkom.


Ons moet vir ons regeerders bid. Die vraag is wat en hoe moet ons bid?


‘n Paar dinge is vanselfsprekend. Wysheid, morele integriteit en karakter kom eerste by my op. Maar daar is meer. Ons moet bid vir ware dienende leierskap wat eie belang agterweë laat. Maar onthou: mense is bereid om ’n ekstra myl te loop, te dien en verantwoordelikheid te aanvaar as daar ’n bepaalde trots en liefde in hul leef. Ek is bevrees dat dit oor dekades en om verskeie redes by baie verskillende mense in Suid-Afrika afgebreek is. Dan begin mense net vir hulself leef.


Ek glo dat die Gees van God my oë voortdurend kan open vir die skoonheid en kosbaarheid van die land en al sy mense waarin God my geplaas en geroep het. Dit motiveer my om in my klein kringetjie ‘n verskil te maak. Ons het nie net ’n goeie president nodig nie, maar miljoene individue wat met trots, liefde, hoop en geloof bereid is om waarlik te dien."



0 comments

Recent Posts

See All

iThemba

bottom of page