Publieke Getuienis
Die Lasarus op ons stoep
Daar het onlangs ‘n konferensie in die Groote Kerk in Kaapstad plaasgevind waar kerkleiers en NRO’s saamgesels het oor die haweloses krisis wat ons in die gesig staar. Die vraag is veral gevra wat die kerk se reaksie en optrede in hierdie situasie moet wees. Braam Hanekom was daar en vat van die belangrikste bevindinge saam.

`n Mens moet blind wees om nie die eskalasie van hawelose mense op die strate van ons stede en dorpe raak te sien nie. Dit geld nie net vir Kaapstad nie, maar is ‘n tendens regoor ons land. Die kerk het ‘n dubbele roeping in die verband. Soos alle verantwoordelike landsburgers moet ons redelik, nugter en wetenskaplik na oplossings soek. Terselfdertyd leef ons met ‘n bepaalde Christelike roeping wat ons dwing om ‘n ekstra myl te loop en die spreekwoordelike Lasarus op ons voorstoep te omarm.
Dit is al baie gesê, maar haweloses is ’n komplekse en gelaagde uitdaging. In die sosiale wetenskappe word daar van “wicked problems” gepraat. Dit het niks met die mense te doen nie, maar met die aard van die uitdaging. Te dikwels redeneer mense dat daar net goeie mense en slegte mense is. Raak net ontslae van die slegtes, dan sal die antwoord vinnig helder wees.
Twee narratiewe doen nou die rondte. Die een groep voer aan dat haweloses lui, bose mense is en net van die strate verwyder moet word. Die ander groep voer aan dat hulle maar net brose mense is (onskuldiges wat geen mens sal leed aandoen nie) en dat hul menseregte vertrap word. Dit is ingewikkelder as dit.
Haweloses is ‘n mengsel van oud en jonk, verslaafdes, werkloses, ontheemdes, gestremdes, slagoffers, mense sonder hoop, huisloses, onskuldige, broos, goeie mense en kriminele. Daar is mense wat werk soek en mense wat werksku is.
Haweloses is egter net so ‘n simptoom van ‘n gebroke samelewing soos wat dit ‘n simptoom van ‘n gebrekkige regering is. Dit is belangrik dat ons ‘n onderskeid maak tussen huisloses en haweloses. (Houseless vs. homeless). Dit gaan dus nie net daaroor om die regte beleid en strukture in plek te kry nie, maar om weer lewegewende gemeenskappe te stig. Hier kan die kerk ‘n reuserol speel.
Woorde soos holistiese aanpak, gemeenskap, verhoudinge, basiese akkommodasie, herstel, heling en rehabilitasie, trauma, herintegrasie en bemagtiging staan dus sentraal tot enige oplossing wat aangebied word. Dit moet egter aanvaar word dat daar ‘n sekere groep haweloses is wat so afgetakel is dat hulle permanent versorg sal moet word. Hier sal die breër gemeenskap en die staat moet hande vat.
Beter sensus en statistiek is dus dringend noodsaaklik. NRO’s voer aan dat daar tussen 14 000 en 17 000 haweloses in die breër Kaapstad metro is. Ons weet dat daar net nagenoeg 3 000 beddens in skuilings beskikbaar is. ‘n Senior amptenaar het egter aan my gesê dat daar geen “bed probleem” is nie en dat hul slegs ‘n uitdaging het om families te akkommodeer. Êrens klop die somme nie. Neem ook in ag dat Stad Kaapstad se amptelike beleid oor haweloses laas in 2013 opgradeer is. Nuwe opgedateerde data is dus dringend nodig.
Intussen roep baie aktiviste dat haweloses nie “gekriminaliseer” moet word nie. “Dit is nie ‘n oortreding om arm te wees nie!” Dit word baie in gesprekke gehoor. Natuurlik is dit nie ‘n oortreding om arm te wees nie. Dit is wel ‘n oortreding om ‘n wet te oortree. Ons kan nie verskillende reëls vir verskillende mense in die samelewing hê nie. As wetgewing en plaaslike verordeninge ontoepaslik is, moet dit aangepas word.
Dit is egter bitter belangrik dat ons vir onsself sal afvra watter tipe sosiale orde en sosiale kontrak ons vir onsself visualiseer en wil aangaan. Hieroor bestaan daar in die gesprek baie verskillende ideologiese (en politieke) standpunte. Een voorbeeld. Dit is noodsaaklik dat arm mense ook toegang tot die middestad moet hê, ook in terme van behuising. Die vraag is hoe en wie besluit wie daar kan woon en wie in randgebiede en townships moet woon. Die middestad kan nie 4 miljoen mense huisves nie. ‘n Sensitiewe vraag: wat sou die verskil wees tussen grondbesetting en die oprig van skuilings in parke en op sypaadjies? Daarteenoor is dit duidelik. As daar nie ‘n sinvolle alternatief geskep word nie, gaan ons moeilik enige optrede daarteen kan regverdig.
Higiëne word ook ‘n al groter probleem. Gerugte dat tifus vir die eerste keer in dekades in Kaapstad waargeneem is, wek groot kommer. Dit staan egter soos ‘n paal bo water dat wanneer groterwordende groepe mense sonder behoorlike water en sanitasie op straat bly, dit ernstige gesondheidsimplikasies inhou.
Heelwat klagtes word ontvang oor die optrede van wetstoepassingowerhede. Privaat, sowel as die van die staat. Duidelike deursigtige riglyne behoort vasgestel en gekommunikeer te word.
So waar lê die oplossing? Duidelik is daar nie ‘n enkelvoudige en eenvoudige oplossing nie, maar ons sal dringend moet kyk na beter beleide en samewerking. Gauteng is in die verband die Kaap voor.
Kerke sal veel nader aan die probleem moet beweeg en verhoudinge met haweloses bou. Ons deel maklik komberse uit wanneer huise in townships afbrand. Ons het egter ‘n geskiedenis van probleme goed hanteer wat vêr van ons af is. Ons reageer goed as daar ‘n krisis is: ’n brand, ‘n droogte of ‘n vloed, maar ons sukkel om die sistemiese uitdagings om en naby ons te hanteer. Ons sal moet gemaklik raak met ‘n ongemaklike reis. Soos gesê, “wicked” komplekse uitdagings, wat verweef is met soveel ander samelewingsfaktore, het nie maklike oplossings nie.
Tog sal kerk en staat moet leer om beter saam te werk. Na Covid word talle kerklike geboue onderbenut. Dit kan omskep word in tuistes vir klein gemeenskappies van tien of twintig. Die kerk behoort dan omarmende en verwelkomende ruimtes te skep waar al die beginsels wat ons reeds uitgelig het, aangespreek word. Sou die staat bereid wees om gekontroleerde befondsing te verskaf, kan veel goedkoper oplossings verskaf word, as wat ons tans sien? Instellings soos, The Haven, MES en Straatwerk kan riglyne en opleiding verskaf. Ek hoop dat die politieke en morele wil by die staat en kerke spoedig hiervoor sal ontwikkel.
Ten slotte is dit so dat die kerk fundamenteel iets anders is as ‘n gewone NRO. Sedert Pinkster is daar voorbeelde van hoe eenheid in diversiteit geskep kan word deur die krag van die Gees. Daar is deur die eeue heen voorbeelde van hoe die kerk reuse-maatskaplike uitdagings getakel het en ‘n groot verskil gemaak het. Gedwing deur die liefde van Christus. Daar word baie oor inklusiwiteit gepraat. Die vraag is of kerke ook bereid is om op gepaste wyse ‘n inklusiewe ruimte te skep vir hierdie randfigure oor wie Christus baie besorg was.