top of page
Search
  • Writer's picturePublieke Getuienis

Die krisis is groot, die oplossing is eenvoudiger

Deur Braam Hanekom, soos verskyn in Godsdiens Aktueel.


Daar is drie, nee, vier dinge wat my tans diep oor Suid-Afrika bekommer. Die eerste is die energiekrisis. Dit is vanselfsprekend. Die tweede is die diep sistemiese kriminaliteit wat feitlik alle staatsinstellings infiltreer het en terselfdertyd met mafia-agtige optrede ook die korporatiewe wêreld bedreig. Die derde is die feit dat die ANC in werklikheid ’n etnies-swart, nasionalistiese beweging geword het wat ‘n diverse land en gemeenskap probeer bestuur. Die vierde is die wankelrige sosiale kohesie wat broos gelaat word deur bitterheid en woede, wat deur die krisisse en verskillende narratiewe aangevuur word.


Dit is maklik om die foute uit te wys. Veel moeiliker om die bouwerk te doen. En tog is daar relatief eenvoudige dinge waarmee ons kan begin.


Die evangelie kondig lig in duisternis aan (Jesaja 9 en Matteus 4). Watter metafoor vir ’n tyd soos hierdie is dit nie? Christus se opdrag en plan was ook baie soortgelyk aan presies dit wat nou voorgestel word om ons uit die duisternis te haal. Breek die uitdaging af en bemagtig duisende huishoudings en besighede sodat almal ‘n bydrae kan lewer. Christus gebruik uiteraard ander taal. Hy stel dit egter duidelik. Daar is nie net een groot lig en oplossing nie. Miljoene word geroep om as dissipels hul lig te laat skyn.


Wat sou dit nog meer konkreet vir ons beteken? Ek is meer as ooit te vore daarvan oortuig dat daar miljoene swart, bruin en wit mense in Suid-Afrika is wat wil hande vat en ’n verskil wil maak. Ook in klein groepe in gemeenskappe. Oor alle grense heen. Die beweging van mense wat hande vat moet eenvoudig groter word as die sinnelose dade van politici wat mense nog te veel ter wille van eie belang verdeel.


Geloofsgemeenskappe sal ’n voorbeeld daarin moet wees. Waar hulle dit nie doen nie, glo ek dat daar van hulle rekenskap gevra gaan word. Die rykdom en energie wat egter in jou loskom wanneer jy ervaar dat daar saam handegevat word, om saam te werk aan ’n gemeenskaplike doel, is net onbeskryflik. Dit kan so eenvoudig soos ’n groentetuin wees of so belangrik soos ‘n skool met gedeelde waardes vir al ons kinders. Ek besef al meer dat ons probleem nie verskillende rasse is nie, maar dikwels verskillende waardestelsels.


Verlede week het ek die voorreg gehad om ’n saal vol ouers by Hoërskool Hopefield toe te spreek. Wit, bruin en swart. Die energie, positiwiteit en ontspanne gees is aansteeklik. Die netjiese kinders is inspirerend.


Ek ry vroegaand weg terwyl die laaste strale oor die Sandveld sak. My hart is vol dankbaarheid en hoop. Daar is reuse-uitdagings in ons land, maar terselfdertyd ook soveel eilande van hoop. Niemand van ons is die son nie, maar ons kan ’n stukkie van die Son laat weerkaats in ‘n land wat smag na lig.



bottom of page