Publieke Getuienis
Die kerk se reaksie op haweloosheid
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het in samewerking met MES, Straatwerk en Groote Kerk ‘n insiggewende konferensie oor haweloses aangebied. Dit is deur verskeie rolspelers bygewoon wat ds. De La Harpe le Roux van die Torings van Hoop-gemeente in Bloemfontein ingesluit het. Daar is ook na die stemme van voormalige haweloses geluister. Braam Hanekom lig van die belangrikste insigte uit:
"Die komplekse en gelaagdheid van die uitdaging. Haweloses is nie ‘n homogene groep nie en daar is ook nie ‘n enkelvoudige en eenvoudige oplossing nie. Daar moet ‘n onderskeid gemaak word tussen 'houseless' en 'homeless' mense. Wat ons sien, is die resultaat van ‘n gebroke en stukkende gemeenskap waarvan ons deel is.
Die kerk sal op reis moet gaan en dit gaan vra dat ons fisies veel nader aan hierdie hawelose gemeenskappe sal moet beweeg. Hoe verander ons ons eksklusiewe ruimtes na ware inklusiewe ruimtes? Die aanbod van oortollige kerkgeboue en ruimtes is in detail bespreek, asook omvattende en holistiese strategieë wat kulmineer by die herintegrering van haweloses in die breë samelewing.
Ons soek egter dringend gemeentes wat bereid is om hul hande 'vuil te maak' en in die 'messiness' van so ‘n reis betrokke te raak. Dit hoef nie chaoties te wees nie. Ons soek egter gemeentes wat bereid is om klein lewegewende gemeenskappe te bou. Verhoudinge is hier die sleutel. Intussen moet ons veel beter data oor die uitdaging insamel en dringende gesprekke behoort nou met die stad te volg. Die WCEN praat ook volgende week verder oor die saak."
Vir meer inligting kontak braam@kaapkerk.co.za.
Die verslag oor die die kerk se reaksie op die hawelose uitdaging is hier beskikbaar:
Dit is opgestel na aanleiding van ons gesprek verlede week in Groote Kerk tussen kerkleiers en NRO’s uit die sektor.