Publieke Getuienis
Die geweld wat vloei uit 'n stukkende lewe
Braam Hanekom - Godsdiens Aktueel

Op ‘n manier was die onlangse nuusberig oor ‘n kliniek wat aangeval is en hoe werkers en pasiënte toe beroof is, van die mees onstellende berigte wat ek die afgelope tyd gelees het. Dieselfde geld natuurlik ook vir aanvalle op bejaardes en plase, asook moorde op onskuldige kinders en vroue.
Die vraag wat onwillekeurig by ‘n mens opkom, is hoe gebeur dit dat die psige of gees van ‘n mens so donker word, dat die hulpelose so deur magsmisbruik verniel word? ‘n Resensie van Martha Nibley Beck se boek The way of integrity: finding the path to your true self (2021) deur Lyzette Schwella het vir my lig laat opgaan.
Integriteit kom van die woord integer, wat onder andere “heel” en “in takt” beteken. Mense beland egter soms op deurmekaar en gebroke plekke. Een groot rede hiervoor is trauma. Ons het al meermale verwys na getraumatiseerde kinders wat op die ou end “getraumatiseerde,” wrede bendeleiers word.
President Ramaphosa was reg toe hy met verwysing na korrupsie gesê het: “Ons is nie so nie.” Die vraag bly dus hang: Hoe en hoekom het ons so geword?
Ons het reeds na die invloed van trauma verwys. Die hartseer bly dat stukkende mense soms stukkende lewens lei. Sulke stukkende lewens maak dikwels dan ook ander mense se lewens stukkend en so word ‘n bose siklus geskep.
‘n Tweede rede mag wees dat ons langs die pad ‘n vals lewe begin lewe en self die leuens begin glo wat ons lewe. Dit mag enige iets wees van dit is my reg, tot hulle verdien dit en meer. Integriteit gaan verder maklik verlore wanneer mense onder druk verkeer. Dit gebeur met armes en rykes. Bestuurders en werkers.
Maar dalk is die belangrikste rede vir verlies aan karakter en integriteit, die oersonde, om ingebuig op jouself te wees. Ons praat van selfsug en `n beheptheid met die self, wat maklik verander in jaloesie en afguns.
Ek het ‘n Xhosa-gedig getiteld Umona, van ‘n ene N. Nconda, op Facebook raakgeloop. Umona kan vertaal word na met jaloesie, afguns of selfsug. ‘n Paar vertaalde reëls uit die gedig lui soos volg:
Daar is ‘n siekte wat nie genees nie, jaloesie… Dit is die lui een… Iets wat nie iets mooi wil sien nie… Iets wat nie wil sien dat iemand slaag nie… Die leuenaar is' n lui man… Jy is die vriend van die haat… Jy is die heks wat jou inspireer…
Daar is min kulture en godsdienste waar selfsug en ‘n na binne gekeerdheid nie ten sterkste veroordeel word nie. Die wortel van alle sonde, het Martin Luther dit genoem.
Dalk moet ons begin verstaan dat bekering nie net beteken dat slegte mense in goeie mense verander nie, maar ook dat stukkende mense weer gesond en heel word en na ander begin omsien.