Publieke Getuienis
Die begroting, armoede en ons toekoms
Braam Hanekom

Die afgelope begroting het groot belangstelling gewek met uiteenlopende reaksies. Dit is verstaanbaar. Ons toekoms is op die spel en mense voel dit aan. Ek is nie ‘n ekonoom nie, maar jou gesonde verstand sê jou hier is ‘n paar groot driwwe om deur te kom.
Byvoorbeeld, mense praat graag oor die wonder van saamgestelde rente. Wel, wat dan van die nagmerrie van saamgestelde skuld? `n Volle vyfduisend miljard Rand wat loer. ‘n Lening van meer as die totale skuldlas van ESKOM moet aangegaan word om net die komende jaar se begroting te laat klop. Internasionale rentekoerse mag laag wees, maar jy het nogal ‘n hoop geloof nodig om te glo dat dié somme gaan klop. Maar kom ons los dit vir die ekonome en politici.
Nader aan die kerk se besinning lê die vraag oor watter breë ekonomiese gedagtegang agter die begroting lê. Word daar sekere strukturele gebreke in die ekonomie aangespreek en hoe sou ‘n mens die begroting versoen met COSATU se opmerking dat die armes versaak word? Hoe vergelyk dit met vorige groot uitsprake deur kerk oor die ekonomie. Dink byvoorbeeld aan die Wêreldraad van Kerke se Accra-verklaring (1998). Beur dit weg van die oproep om ‘n Basiese Inkomste Toelaag (BIG)? Baan dit die weg vir die holistiese welsyn van ons mense, gemeenskappe en ekologiese omgewing? Of is dit ‘n geval van die enigste opsie wat oorgebly het vir ‘n regering wat sit met ‘n leë staatsbeurs, onrealistiese verwagtinge en ‘n stukkende ekonomie?
Gelowiges mag nooit ophou dink en bid oor die lot van die armes nie. Dit beteken nie dat ons meepraters van eensydige retoriek oor oplossings sal word nie. Terwyl die Bybel Christus se hart vir die armes duidelik openbaar, is die Bybel terselfdertyd glashelder oor wat gevra word om die probleem op te los. Dit sluit in konings (lees regerings) met integriteit, hardwerkendheid, etiese optrede, orde, opvoeding en hoop.
Eenheid, respek en samewerking maak gemeenskappe welvarend. Selfsug, konflik en verdeeldheid maak gemeenskappe arm. Die hebsug van rykes is ‘n gruwel in die oë van die Here.
Nog ‘n paar werklikhede hou ons gevange. Die vraag bly of witmense die onregte van die verlede al genoegsaam, veral ook op emosionele vlak, aangespreek het. Terselfdertyd word die onregte van die hede soms blindelings verdedig deur die onregte van die verlede aan te haal. Ek is oortuig daarvan dat Swart Ekonomiese Bemagtiging, soos tans toegepas, armoede verhoog. Nuwe onregte word geskep. Witmense word gewoon nie genoegsaam toegelaat om hulle vaardighede aan te wend om ons uit ons ellende te help nie. `n Land het al sy beste kapasiteit nodig om sukses te behaal.
Tog bly ek hoopvol oor ons toekoms! Groot werk lê egter voor en maklik gaan dit nie wees nie, maar daarvoor was ons nog nooit bang nie.