Publieke Getuienis
Dapper gesprekke op Klerksdorp vir 'n beter samelewing
Die Sentrum vir Publieke Getuienis saam met Gregory Modungwa van Unashamedly Ethical het verlede Donderdag nog ‘n Courageous Conversation op Klerksdorp gefasiliteer. Dertig persone van diverse agtergronde en sektore het die geleentheid bygewoon. Braam is dankbaar vir elkeen wat deel van hierdie gesprek gevorm het. Hy glo dat die persone wat hulle tyd hieraan gewy het reeds ‘n diens aan Suid-Afrika gelewer het.

Gedurende hierdie Courageous Conversation het die gemeenskap saam gesels oor die pad vorentoe vir die dorp en die land. Dit is teen hierdie tyd duidelik dat Suid-Afrika tans met enorme uitdagings gekonfronteer word. Daar is tot die besef gekom dat Suid-Afrikaners hulle denkwyses sal moet verander. Ons hou aan om dieselfde ou narratiewe oor “die ander” in ons verskillende gemeenskappe te versterk. Die belangrikheid van blootstelling aan mense vanuit verskillende rasse, kulture en agtergronde mag nie onderskat word nie. Deelnemers aan hierdie gesprek het ook verklap dat hulle voel dat Suid-Afrikaners ‘n gebrek aan respek vir mekaar het en daarmee gaan gebrekkige etiek en waardes gepaard. Die mense in ons land lewe met die onregverdige verwagting dat iemand anders die probleme kan en moet herstel. Maar hoekom vra ons nie: wat kan ek en my gemeenskap doen om te help nie?
Verder sit die land se jeug sonder rigting en motivering. Misdaad, dwelms, verwaarlosing en ‘n gebrek aan vertroue is die resultaat daarvan. Die vraag op almal se lippe bly: waar is die leiers? Maar niemand besef dat hulle ook ‘n leierskaprol het om te speel nie. Daar is tans ‘n gebrek aan samewerking en spanwerk tussen gemeenskapslede wat dringend reggestel moet word. In hierdie proses sal versoening op ‘n natuurlike wyse geskied, waarde-gedrewe leierskap sal floreer en diversiteit sal gevier word.
Maar sonder sosiale kohesie is al ons ander pogings in gevaar. Ons kan ongelukkig nie alles verander nie, maar ons kan een baksteentjie neerlê. Dit gaan tyd neem, maar ‘n verhoogde sosiale kohesie in Suid-Afrika is definitief moontlik.
Om hierdie mylpaal te bereik is gereelde gebed nodig. Gemeenskapslede moet ook aangemoedig word om vennote te bou en in ‘n span saam te werk. Verheldering van 'n duidelike visie (geestelike beeld) van die transformasie wat jy in die gemeenskap wil sien, is ook noodsaaklik.
Is ons moedig genoeg om die WAAROM-vraag te vra? Hoekom is ons in die toestand waar ons is? Hoe motiveer ons ons jeug, verander waardes en herstel ons ons gesinne? Wat is die volgende stap wat JY moet neem? Klerksdorp en die breër Suid-Afrikaanse sameleweing bly in ons gebede.
