Publieke Getuienis
#100DorpeDialoog terugvoer
Braam Hanekom het tydens Augustus en September besoek afgelê by talle dorpe regoor Suid-Afrika om inklusiewe gesprekke in die onderskeie gemeenskappe te fasiliteer. Die hoop is om sosiale kohesie in die dorpe en sodoende ook Suid-Afrika te verbeter.
Graaff-Reinet
Gemeenskapsleiers wat uit die burgerlike samelewing, sakesektor en plaaslike regering kom, het op Graaff-Reinet vergader om saam oor die toekoms van die dorp te besin. Braam vertel ons meer: "Terwyl daar dele van Graaff-Reinet is wat pragtig daaruitsien, is daar ook groot ellende, armoede en ongelyke ekonomiese ontwikkeling. Soos op baie van ons dorpe is daar groot bekommernis oor ons jeug, dwelmmisbruik, werkloosheid en verhoogde kriminaliteit. Die groot vraag en bekommernis is egter die funksionaliteit van ons plaaslike regerings. Die SPG werk tans aan ‘n model wat die vraag wil beantwoord: Hoe kan ons plaaslike regerings meer verantwoordbaar hou? Daar is ook ‘n gemeenskapsforum gestig wat met die plaaslike ekonomiese forum sal ontmoet. Raak deel van die gesprek!
Koringberg
'n Suksesvolle dialoogsessie het ook op Koringberg in die Swartland plaasgevind. Verteenwoordigers van verskeie geloofsgemeenskappe, die plaaslike regering, polisie en gemeenskapsveiligheid, landbou, NRO’s en gemeenskapsleiers het die vergadering bygewoon. Sake op die agenda was onder andere misdaad, behuising, werkloosheid, hopeloosheid en konkrete projekte wat in plek gestel kan word om hierdie kwessies aan te spreek. Dit sluit in die verkiesing van die Koringberg Gemeenskapsontwikkelingsforum, die oprigting van veiligheidskameras, beter samewerking met die polisie en plaaslike owerhede, die verf van armoedige huisies en ontspanningsfasiliteite vir minderbevoorregtes.
Piet Retief
Braam Hanekom vertel dat die #100DorpeDialoog-gespreksessie op Mkondo/Piet Retief uitstekend verloop het. Die burgemeester, raadslede, predikante, NGO’s en gemeenskapsleiers het saam om die tafel gesit en oop en eerlik gepraat. Almal was gemaklik om saam te gesels oor sensitiewe sake soos wantroue, bitterheid, agterdog, elektrisiteit en slaggate. Daar is ook saamgesels oor die dorp se gesamentlike visie, sosiale kohesie, toekomstige gesprekke met die plaaslike regering en die pad vorentoe.
“Deur die loop van die aand dink ek: Hoekom sou die plaaslike regering worry oor stukkende paaie in wit buurte as hulle eie mense nie behoorlike toilette het nie? Stukkende paaie is net nog ‘n simptoom van ‘n gebroke samelewing. Ons spandeer heeltemal te min tyd en energie om by mekaar uit te kom. Wanneer ons mekaar op straat groet, dien ons Suid-Afrika. Swartmense is al minder lus vir witmense (en andersom), maar dalk gaan die nood van die oomblik ons nader aan mekaar dwing. Bid asseblief vir die dorp.” Die Sentrum vir Publieke Getuienis bied soortgelyke dialoogsessies by talle dorpe aan in Julie en Augustus."
Heidelberg & Oudtshoorn
Braam Hanekom vertel dat die Sentrum vir Publieke Getuienis onlangs nog twee inklusiewe gesprekke op Heidelberg en Oudtshoorn gefasiliteer het. "Dit was goed om 'n spektrum van mense uit sektore soos die landbou, gesondheidsdienste, plaaslike regering, sakesektor en selfs 'n rugbyklub te hoor saamgesels. Van die belangrike uitdagings bly die burgerlike samelewing se verhouding met die plaaslike regerings. Verder is werkloosheid en ekonomiese groei, ons jeug en behuising van die sake wat op gemeenskappe se agendas moet bly."