Publieke Getuienis
#100DorpeDialoog - Burgerlike samelewing en plaaslike regering
Dit is teen hierdie tyd baie duidelik dat die meerderheid van plaaslike regerings in Suid-Afrika in ‘n krisis is en eintlik disfunksioneel geraak het. Die vraag is hoe kan ons hierdie uitdaging aanspreek? Die teorie het ontwikkel dat daar vanuit burgerlike samelewing ‘n tweërlei poging aangewend moet word. Die eerste is om vennootskappe met plaaslike regerings te bou en die tweede is om terselfdertyd plaaslike regerings verantwoordbaar te hou vir hulle optrede.
‘n Werkgroep het op 19 en 20 Oktober 2022 by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington vergader ten einde hierdie uitdaging te analiseer en met moontlike oplossings vorendag te kom. Wat hier volg, is ‘n samevatting van die gesprek, maar ook die belangrike slotsom waartoe gekom is.
