top of page

Koronavirus-Pandemie

'n 2021 saam met COVID-19, maar ook met hoop en verwagting

Die meeste van ons het gehoop dat die COVID-19-pandemie teen hierdie tyd ou nuus sou wees. Heelaas is dit nie die geval nie.

Reg aan die begin van die pandemie het die sinode van Wes-Kaapland se COVID-19 Taakspan vir mekaar gesê dat ons ons waarskynlik moet regmaak vir ’n lang winter. Ons was nie verkeerd nie.

​

Die vraag is: Hoe bly ons blymoedig voortreis in 2021?

Stones of Meaning

1. Behou perspektief

​

Hierdie pandemie is nie die eerste wat die wêreld getref het nie en sal ook nie die laaste wees nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914 - 1918) het 20 miljoen mense gesterf en in die twee jaar daarna nog 20 miljoen gedurende die Groot Griep (ook bekend as die Spaanse Griep). Dit uit ‘n wêreldbevolking van ongeveer 1 miljard.

 

Met COVID-19 het daar reeds miljoene mense gesterf. Die getalle sal beslis nog styg, maar dit uit ‘n bevolking van meer as 8 miljard mense. COVID-19 is baie erg, maar moet in perspektief gesien word. Terselfdertyd, laat ons nie ons oog afhaal van die ander uitdagings (byvoorbeeld haweloosheid, armoede en die ekologie) nie.

2. Bly versigtig, maar nie bevrees nie 
​

Die kerk behoort ’n voorbeeld te stel in dissipline en hoe om met die virus om te gaan. Terselfdertyd mag angs en vreesagtigheid ons nie oorweldig nie. Dit breek in elk geval net jou immuunsisteem af. Angstigheid gaan niks help nie. Hierdie pandemie skep egter ook unieke geleenthede aan die kerk om juis nou ‘n positiewe en konstruktiewe getuienis te lewer.

Happy Childhood
Gift Bags

3. Fokus op dankbaarheid 

 

​Dankbaarheid is een van die beste maniere om jou liggaam positief en gesond te hou. Tel jou seëninge. Tel hulle een vir een! Kyk om jou rond. Verlustig jou in die skepping en vind maniere om jou medemens op verantwoordelike wyse te ondersteun.

4. Ontdek die gawes wat dié tyd jou bied​


COVID-19 bied ook vir ons geskenke aan. Ons was verplig om te stop met sekere dinge, maar dit het vir ons die geleentheid geskep om nuwe dinge te doen of ou dinge wat ons verloor het weer op te neem. Ons hou korter vergaderings, reis minder en kuier minder. Daar is egter meer tyd vir stilte, gebed, nadenke, lees en selfs skryf. Ek glo ons het dit in elk geval nou bitter nodig. Maak tyd vir jou geliefdes, begin ‘n nuwe stokperdjie, bestudeer ‘n Bybelboek of begin ‘n groentetuin. Koop die tyd uit en maak gebruik van elke geleentheid!

Travel Polaroids
Faith Development Programs

5. Hou vas aan die Christelik hoop
​

Prof. Hennie Rossouw het jare gelede na ’n donker tyd in sy lewe (die afsterwe van sy seun, Hans) soos volg oor die Christelike hoop geskryf. Ons kan dit nie beter stel nie:
 

Fatalistiese berusting en konformistiese afwagting is vreemd aan die Christelike hoop. Wie dit daartoe herlei, vermink die hoop wat met die belofte van die Evangelie korrespondeer. Die Christelike hoop is ‘n aktiverende hoop. Dit bring die gewete in beweging. Die Christelike hoop is ‘n vindingryke verwagting waardeur daar onderweg vooruit gegryp word op dit wat kom. Die Christelike hoop laat hom nie onderkry deur die dooddoenerargument dat die mens hom in sy keuses binne die grense van die “moontlike” en die “haalbare” moet hou nie. Dit is strykdeur besig om die gewete aan te por sodat die grense van die moontlike steeds verder uitgeskuif kan word. Die indikatief van die belofte dat alles anders sál wees, is vir die Christelike hoop tegelyk ‘n imperatief dat alles ook anders kán wees (Die Sin van die Lewe, Tafelberg 1988).

bottom of page